|
Aangenaam. My naam is Corné en hierdie is my stukkies idees oor die lewe soos ek dit sien. Ek vermoed dis 'n goeie naam vir die reeks artikels want alles is bloot my opinies. Dis nie onbeweeglike teologie, onbetwisbare wetenskaplike feite of noodwendig "so spreek die Here" nie. My idee met die artikels is bloot om nog 'n opinie te lewer, om jou dalk te laat dink in 'n nuwe rigting of om jou dalk selfs vir die eerste keer aan die dink te kry oor 'n gegewe saak. Ek het definitief nie al die antwoorde nie, slegs amper 40 jaar se lewensondervinding waarvan die laaste 24 saam met God was. Ek groei en ontdek nogsteeds elke dag, maak baie foute, leer soms vinnig daaruit en soms stadiger. Ek glo wel vas dat ek iets te sê het en dis wat julle hier sal lees. Voel welkom om julle reaksies te laat weet.
Soos julle sal agterkom as julle my profiel lees, is ek betrokke by meer as een ding. Ek is geseënd met 'n paar heerlike talente en liefdes vir 'n hele paar dinge: musiek, gesondheid, mense... Dus is ek betrokke in 'n professionele kapasiteit by al hierdie rigtings. Hopelik maak dit van my "Jack of all trades, master of some". My vrou en my eie groot passie lê by ons oorspronklike Afrikaanse musiek. Die res van my musiekloopbaan is vir geldmaakdoeleindes, jy weet, soos 'n dag op kantoor, net baie lekkerder as die normale kantoor! Ek het dus nie alle wysheid in pag nie, ek het ondervinding en ek studeer wel teologie. Vir die van julle wat nie weet nie, teologie is nie noodwendig 'n studie oor God nie. Jy leer Hom nie noodwendig beter ken in hierdie studierigting nie. Dis 'n teoretiese studieveld in godsdiens en is baie handig as jy reeds weet waar jy met God staan. As jy Hom nie reeds ken nie vermoed ek jy gaan sukkel om Hom in teologie te kry. Ek weet van heelwat mense wat gaan teologie studeer het en daar uit is as verwardes en ateïste. Kennis op sy eie kan gevaarlik wees!
Nou maar, as ek so belangstel in die teologiese rigting, hoekom is ek nie voltyds in bediening nie, of wil ek met my een voet in die wêreld en een voet in die kerk staan? Goeie vraag. Ek bespreek dit sommer in my volgende artikel, "Gospel Dokter".
|