Home | ARTICLES | SOOS EK DIT SIEN | Gospel Dokter

NEWSFLASH

Watch this space for the new I Believe website in conjunction with 3D Acts coming soon


UPCOMING EVENTS



ADVERTISERS



Banner
 
Gospel Dokter PDF Print E-mail

So 'n rukkie gelede tree ek saam met Heidi Bouwer by 'n skool op met ons Afrikaanse musiek. Ek vra toe die kinders daar wie se pa 'n dokter is. So ongeveer drie kinders steek hulle hande op. Ek vra toe wie van hulle se pa 'n gospel dokter is. Raai wat? Nie eers een se pa nie! Ek herhaal toe die eksperiment met 'n paar ander beroepe soos onderwysers, boere en haarkapsters. Die interessante ding is dat niemand wat 'n beroep beoefen en homself 'n Christen noem homself 'n gospel watsenaam noem nie. Hierdie algemene feit tel egter blykbaar nie vir musikante nie. Soos julle dalk weet, is ek ook een en is ek volgens sekere mense (meer as wat ek vermoed het) veronderstel om 'n gospel sanger te wees. As ek nie een is nie is ek besig met kompromie. Sal iemand my asseblief van 'n sinvolle rede laat weet, want ek sukkel om dit raak te sien.

Sekerlik is die goeie dokter net soveel veronderstel om 'n goeie getuie van God se Koninkryk te wees as die musikant. Gelukkig ken ek genoeg Christen dokters om te weet dat dié wat erns meen met hulle Christenskap dit wel doen. Nou hoekom sou 'n musikant dan nou anders moet wees? Ek reken die vermaaklikheidswêreld kan doen met 'n paar Christene wat daar rondhang vir wanneer dit nodig raak. Die einste mense verwag ook dat ek rondhardloop en òf almal vermy wat nie 'n gesonde beeld het nie òf almal probeer bekeer. Ek verstaan dat deel van ons werk hier is om mense na God toe te wys, maar hulle verwag nie van die onderwyser om almal in sy skool te vermy of te bekeer nie, ook nie die dokter of die haarkapster nie, net die musikant. Ek weet hierdie is 'n groot veralgemening, maar dis omdat dit nogal algemeen is.

Soos ek dit sien, is daar nie kleiner of groter roepings nie. Een talent is nie belangriker as die ander nie. Party is meer sigbaar, maar ons almal het iets wat ons op aarde moet doen. Ek hoop van harte jy weet wat jy hier moet doen. Dit het gewoonlik iets te doen met jou natuurlike talente en passies. God wil jou gebruik waar jy is, in die wêreld waar dit vuil en vieslik mag wees, dalk nie eers nie, net ongered. Wees 'n getuie, nie 'n staatsaanklaer, regter of polisieman nie. Daar is die regte tyd om iets te sê. Tot daardie geleentheid kom, moet jy die regte dinge doen. Daar is 'n rede hoekom die geestelikes Jesus 'n wynsuiper en 'n vraat genoem het. Hy was duidelik besig om te meng met die "verkeerde" mense.

Dis so interessant om Jesus se optredes in die evangelies dop te hou.

Hy het Hom blykbaar min gesteur aan ons reëls. Ons sê Christene is rustig en nederig - Jesus het immers gesê draai die ander wang - Hy storm die tempel in terwyl Hy sweep inlê. Ons sê leef 'n lewe toegewy aan heiligmaking - God het immers gesê wees heilig, want Ek is heilig - Hy meng met die gemors en gee die geestelikes baie onvleiende kritiek. Ons begin God verkeerd verstaan as ons Hom oordeel volgens ons eie idees van liefde, haat, jaloesie, heiligheid, en allerhande ander terme waarmee God Homself beskryf. Ons meet Hom aan ons eie definisies en raak dan wild met ons uitsprake oor hoe Hy is. Hierdie artikel gaan egter nie oor hoe ons God sien nie, dis vir later. Ek sien in Jesus se optrede iemand wat nie bang is vir die wêreld nie, in elke opsig soos ons versoek (ja, selfs seksueel), maar sonder sonde. Dis hoekom Hy ons Hoëpriester met medelye kan wees wat gedurig by die Vader vir ons intreë. Ek reken ons kan dieselfde wees en doen. Dus, gospel dokter, gospel onderwyser, gospel haarkapster of sommer net musikant.

 
Banner