|
Ek kry mense in voltydse bediening net so jammer soos musikante. Hulle moet mos alles doen omdat dit hulle werk is, dís hoekom die gemeente hulle 'n salaris betaal. Die arme ou is geroep om 'n evangelis te wees, nou moet hy die hele gemeente hanteer met die totale afwesigheid van 'n administratiewe geen. Nog een is 'n fantastiese herder, maar almal verwag hy moet ook 'n fantastiese prediker wees, soos die op TV. Die ander arme siel is diep in sy rustige hart 'n voortreflike leermeester, maar die gemeente is boos, want hy is nie 'n vurige, wonderwerkende bidder nie.
Voltydse dominies/pastore/(sit jou denominasie se titel hier in) is ook nie mense nie. Nie regte, egte, gewone mense nie. Hulle wil nie jonk en opgewonde wees oor iets tydeliks soos sport nie. Hulle voel nie partykeer moedeloos nie. Veral maak hulle nooit foute nie. Hulle is immers gesalftes van die Allerhoogste.
Het jy al gedink aan die feitlike onmoontlikheid van wat ons partykeer van ons voltydse leiers verwag? Hy is geroep en gesalf, ja, maar een persoon het eenvoudig nie AL die geestelike gawes in oormaat nie. In daardie opsig is hy net soos ek en jy. Hy het sekere talente en gawes en ander nie. Hy sal nie effektief wees waar hy nie hoort nie en as hy daar sou aankarring, is geestelike uitbranding 'n redelike sekerheid. Soos ek dit sien het die Here die vyfvoudige bediening van apostels, profete, evangeliste, herders en leraars gegee om die gemeente toe te rus om die werk te kan doen wat moet gedoen word. Let wel, hulle doen nie noodwendig die werk nie, hulle rus my en jou toe om die werk te doen! Jy kan mos nou nie jou geestelike verantwoordelikheid om iets vir God te doen op iemand anders afskuif omdat hy 'n salaris kry nie.
Maak tog asseblief 'n knoop in jou oor om te onthou: dominies en pastore is ook mense. Hulle het ook gewone vriende nodig wat wil praat oor golf, visvang of skilder. Hulle wil ook genooi word na partytjies waar hulle nie wil open met gebed nie. Hulle grootste behoefte na gebed is dat jy vir hulle sal bid. Hulle het nie al die antwoorde nie en kan ook partykeer die pot mis sit. Vergewe maar.
Soos ek dit sien is elke mens wat homself Christen noem 'voltyds' geroep. Daar behoort nie 'n onderskeid tussen die sogenaamde 'heilige' en 'sekulêre' te wees nie. As alles van jou aan God behoort sal Sy stempel wees op alles wat jy doen, maandag tot saterdag. Dié in voltydse bediening het 'n groot verantwoordelikheid op hulle skouers. Deel daarvan is nié om jou werk te doen nie, nie eers teen betaling nie. |