Home | ARTICLES | SOOS EK DIT SIEN | Die boom van lof en aanbidding

NEWSFLASH

Watch this space for the new I Believe website in conjunction with 3D Acts coming soon


UPCOMING EVENTS

There are no events at this time


ADVERTISERS



Banner
 
Die boom van lof en aanbidding PDF Print E-mail

Ek staan met my voete in die laaste stukkie water wat die brander weggooi en verwonder my aan die oneindigende skakerings van grys in die see. Skielik verstaan ek hoekom die meeste mense wat ek ken wat baie met die see te doene het, soos branderplankryers, een of ander geloofsisteem het. Gewoonlik is dit ook een wat ek nie mee saam stem nie, maar jy kan nie voor hierdie grootse stuk van die skepping staan en in níks wil glo nie. 'n Maand voor hierdie stukkie bederf was ek vir 'n week lank by 'n vakansieoord naby Pelgimsrus, heerlik tussen die berge en bosse. Dis so mooi dat jy elke oggend spontaan aan die glimlag raak. Twee weke later was ek in Malelane. As jy jou piesang hier laat val, kom daar 'n boom op. Die helfte van die land se groente word hier rond verbou en ek verstaan hoekom; as ek 'n wortel was sou ek ook hier wou bly. Die plant se blomme is anders as enige ander plek. Die ding blom nie net nie, dit skree 'n loflied! Dit voel my iewers agter 'n boom moet daar 'n grot of deur of ding wees waar jy kan deurstap na die paradys, a la CS Lewis. Dit lyk of God alles wat Hy in die paradys gesit het hiér kom uittoets het en toe net so hier gelos het.

Ek neem aan die meeste van julle het al soortgelyke ondervindings in die natuur gehad. Hoekom is dit so? Daar is seker baie antwoorde, maar soos ek dit sien is die hele skepping 'n groot lof- en aanbiddingsdiens wat aan die gang is. Jy moét geraak word in jou gees as jy in só 'n diens is. Die hele skepping is die heeltyd besig om God te eer en te prys. Dis hoekom die Bybel kan sê dat, as ons nie God se lof sal besing nie, die klippe dit sal doen. Dis hoekom die Woord kan sê dat niemand verontskuldigend voor die Koning sal kan kom staan nie, omdat alles wat wat Hom te wete is vir ons duidelik sigbaar is in Sy skepping. Vir die wat wonder, dit is in Romeine 1. Het jy al gewonder hoe prys 'n boom God? Hy doen dit net soos ek en jy veronderstel is, nie met baie woorde nie, maar as hy 'n boom is, dan is hy 'n boom. As God jou 'n atleet gemaak het, wees 'n atleet. As jy 'n ambagsman is, wees die absolute beste een wat jy kan wees. Dit gee lof aan jou Skepper. Sing is ook goed, maar dis nie waar lof en aanbidding begin en ophou nie.

As jy eendag weer so 'n bietjie af voel, loop gerus in die natuur in en ondervind hoe jou gees aangeraak word. Hierdie is nie 'n ode aan die wonderlike natuur nie. Dis 'n ode aan die fantastiese God wat die wonderlike natuur gemaak het en wat Homself aan ons openbaar deur Sy skepping. Wys jou dankbaarheid deur saam met die skepping God te verheerlik, met of sonder woorde.
 

 
Banner